Staan 'n oomblik stil en dink aan dit wat ons voorouers deurgegaan het om aan hulle nageslag, ons, 'n beter toekoms te gee. Vra jouself die vraag af, sal ek dit vandag doen ?

Trekboere en die Groot Trek

Twee groepe emigante het die Kaapkolonie in die tweede kwart van die 19de eeu verlaat. Die eerste hievan was die Trekboere wat opsoek na beter weivelde oor die grense van die kolonie getrek het. Die tweede groep was die Grensboere in die Oos-Kaap, wat 'n sterker politieke dryf gehad het om die kolonie te verlaat, wat die Groot Trek onderneem het en wat later as die Voortrekkers sou bekend staan. Die Voortrekkers se migrasie het in 1835 begin as gevolg van ontevredenheid met die Britse koloniale owerheid, aanhoudende grensoorloë, gebrek aan grond, arbeidsprobleme en 'n gevoel dat hulle polities gemarginaliseer is. (Vandag in 2010 is ons in dieselfde bootjie )

In 'n geskiedkundige konteks kan die term "Boer" verwys na 'n inwoner van een van die Boere Republieke of na diegene wat kulturele Boere was.

Van die vernaamste leiers was Piet Retief, Gerrit Maritz, Andries Pretorius, Louis Trichardt, Hendrik Potgieter, Sarel Cilliers en Pieter Uys.

Onder leiding van Gerrit Maritz en Piet Retief het 'n groep voortrekkers na Natal gekom waar hulle die hoofstad, Pietermaritzburg gevind het. Hulle het onderhandel met die leier van die zoeloes, die regerende stam in daardie gebied, om 'n stuk grond te verkry. Die leier van die Zoeloes, Dingaan, het hulle hulle toe om die bos gelei en het 'n groot groep voortrekkers asook Piet Retief, uitgemoor. Later is die oorblyfsels deur 'n oorweldegende zoeloemag aangeval te Bloed rivier (vandag Nacome rivier) en het hulle die Slag van Bloedrivier gewen en kon hulle die Republiek van Natalia stig. Dié is later deur die Britse Ryk oorgeneem.

Die volgende kom vanaf Die Groot Trek webblad. Daar is baie meer inligting.

Die aanloop en die Groot Trek in kronologiese orde

Verkenning
Ter voorbereiding van die Groot Trek word drie kommissies in 1834 afgevaardig om die binneland te verken. Die eerste, onder Pieter Lafras Uys, vergesel van Karel Landman, Johannes de Lange en Jacobus Moolman, reis deur "Kaffrarië" na Port Natal. Die tweede, onder Scholtz, besoek die Soutpansberg en 'n derde, onder Johannes Andries Pretorius, ondersoek die Dorsland.1 Die voornemende trekkers versamel ook inligting oor toestande in die binneland en moontlike trekroetes van handelaars, reisigers, jagters, sendelinge en trekboere.

Redes vir die Trek
Piet Retief se Manifes

Voor sy vertrek uit die Oos-Kaap stuur Piet Retief sy Manifes aan die Grahamstown Journal wat die geskrif op 2 Februarie 1837 publiseer. Terwyl die Trekkers verskeie redes aanvoer vir hulle besluit om die Kolonie te verlaat, verskaf die Manifes 'n goeie opsomming van die mense se gevoelens.
Anna Steenkamp se gedenkskrif

Anna Elizabeth Steenkamp, oudste dogter van François Retief, en suster van die Voortrekkerleier, Pieter Retief, verstrek haar redes vir die Trek na die binneland in haar bekende gedenkskrif.

Die ossewa

Die Vootrekkers se vervoermiddel die binneland in was die ossewa wat vir lang tye as tuiste moes dien.

Louis Tregardt se trek

Louis Tregardt stuur reeds in 1829 sy seun, Carolus, met 'n groot kudde vee na Xhosaland; in 1833 huur hulle grond by die Xhosaleier, Hintsa.2 In 1835 trek die Tregardts met 'n klompie ander gesinne noordwaarts oor die Grootrivier (Oranjerivier) en deur die huidige Vrystaat.

"Lang Hans" van Rensburg sluit naby die Vaalrivier met sy trek by die Tregardts aan, maar die twee trekke beweeg voort as aparte eenhede. Hulle bly in voeling en reis tot by die huidige Standerton waar hulle rus, en toe oor die huidige Middelburg en albei vertoef by die Strydpoortberge. Hier skei die twee geselskappe terwyl die Van Rensburgs noordwaarts deur Pienaarspoort reis om in Mei 1836 by Soutpansberg aan te kom. Tyding bereik Tregardt dat al die lede van die Van Rensburg-trek deur swartes vermoor is, maar pogings om hulle oorblyfsels op te spoor, misluk.

Tregardt se groep bereik die soutpan wes van die Soutpansberg teen die einde van Mei 1836 en word in Junie besoek deur Hendrik Potgieter wat op 'n verkenningstog is. Vanaf September 1836 tot Mei 1837 staan Tregardt se trek eers suid van die Soutpansberg, toe naby die latere dorp Schoemansdal, 'n rukkie later in die gebied van die huidige dorp Louis Trichardt en uiteindelik by die samevloeiing van die Dorpsrivier en die Brakspruit. Na 'n aantal sterftes onder mens en dier, bereik Tregardt se trek Delagoabaai (Lourenço Marques - huidiglik Maputo) in 1838. 'n Aantal van die geselskap doen malaria op en eers sterf sy vrou en ander lede van sy familie en daarna Tregardt self.

Hendrik Potgieter se trek

Teen die einde van 1835 verlaat Potgieter sy plaas op trek na die noorde. Families soos die Steyns, Krugers, Liebenbergs, Bothas en die familie Robberts sluit by hom aan sodat sy trek teen die tyd dat dit die Oranjerivier bereik, uit 'n aansienlike aantal waens bestaan. Met behulp van vlotte word hulle in Februarie 1836 by Winterhoekdrif, naby die huidige Bethulie, net onderkant die samevloeiing van die Caledon- en Oranjerivier, deur die rivier gebring. Sodra die trek buite die koloniale grense is, word 'n algemene vergadering gehou en word hy tot kommandant gekies om orde op die trekpad te handhaaf.

Volgens oorlewering sluit 'n groep Colesberg-Trekkers onder Sarel Cilliers by Boesmansberg, ongeveer twintig myl reg wes van die huidige Smithfield, by Potgieter aan. Die trek is iewers tussen die huidige Bloemfontein en Thaba Nchu deur, tot aan die Vetrivier ten suidweste van die huidige Theunissen. Daar vertoef die Potgietertrek 'n geruime tyd, en met die oog op weiding vir die groot troppe klein- en grootvee verdeel dit nou reeds in kleiner trekke, een waarvan reeds in Mei 1836 by Bloudrif aan die Sandrivier laer opslaan.

Op 24.5.1836 vertrek Potgieter met elf man te perd en vergesel van een of meer ligte ossewaens hiervandaan om die binneland vir nedersettingsdoeleindes te verken, en om met 'Lang Hans' van Rensburg en Louis Tregardt se geseslkappe in aanraking te kom. Die kommissie verlaat die laers aan die Sandrivier en reis effens noordoos en daarna op die waspore van Tregardt en Van Rensburg oor die Vaalrivier, verby Suikerbosrand (die huidige Heidelberg), tot aan die boloop van die Olifantsrivier. Van daar gaan hulle deur Strydpoort tot by die soutpan aan die westelike punt van die Soutpansberg, waar hulle teen die einde van Junie 1836 Tregardt met sy trek aantref.

Enige dae later sit die kommissie die reis oor die Limpopo, oor die Nuanetsi, en deur die uiterste suidoostelike hoek van die teenswoordige Rhodesië voort. By 'n kraal van 'n Knopneuskaptein draai hulle om en keer teen die einde van Julie by die standplaas van Tregardt terug, waarvandaan in Augustus die terugreis aanvaar word. Waarskynlik is suidwaarts oor die terrein van die latere Pretoria gery.

Sommige trekkers Trekkers versprei oor die grasvlaktes tot aan die Vaalrivier - twee groepe trek selfs die rivier deur. Die Liebenbergs vestig hulle reg teenoor die huidige Parys waar hulle op 25 Augustus onverwags deur 'n Matebele-impie aangeval word en bykans uitgewis word. Die ander trekgroepe, vroegtydig gewaarsku deur Stephanus Erasmus wat met sy jaggeselskap nog verder noord staan, slaag daarin om die Matebele by die sogenaamde Vaalrivierslag terug te slaan. Die oorlewendes trek oor die Vaalrivier terug. 'n Gedeelte vat na Blesberg (Thaba Nchu) koers, maar die res, aangevul deur sommige Trekkers suid van die rivier, trek hulle in 'n laer by die latere Vegkop, ietwat ten suidooste van die teenswoordige Heilbron, saam. Hier sluit Potgieter en sy kommissie aan die begin van September by hulle aan.

Die slag by Vegkop 
Potgieter plaas die laer strategies op die stygende terrein aan die suidelike voet van die rand en versterk dit behoorlik. Teen die middel van Oktober 1836 vind hier die slag van Vegkop plaas. Onder die bekwame en kalme leiding van Potgieter slaan 'n veertigtal trekkers 6 000 Matebele-krygers van Mzilikazi, met groot verliese terug. Die oorwinning kom egter die Trekkers, en veral die kommandant, duur te staan. Die enigste gesneuweldes was sy broer, Nicolaas Johannes Potgieter, en 'n skoonseun van hom, Pieter Johannes Botha, terwyl sy 400 beeste en 5 600 skape saam met al die Trekkers se vee weggevoer word.

Beroof van hul voedsel en trekdiere, stuur Potgieter sy broer, Hermanus Philippus Potgieter, om hulp suidwaarts. Van Thaba Nchu stuur Moroka, die Rolonghoof, en James Archbell, die Wesleyaanse sendeling by hom, osse en melkkoeie om hulle daarheen terug te bring.

Gert Maritz se aankoms
Verkiesing van `n Trekkerregering

Gert Maritz se trek kom uiteindelik uit Graaff-Reinet aan. Op 2.12.1836 word 'n openbare vergadering in Potgieter se laer gehou. 'n Bestuursliggaam van sewe lede, wat uitvoerende, wetgewende en regsplegende magte sou uitoefen, word met geslote stembriefies gekies. Maritz word tot 'president' en 'regter' gekies en Potgieter word 'laerkommandant'.

Strafekspedisie teen Mzilikazi 
Na deeglike voorbereiding word 'n strafekspedisie teen Mzilikazi gestuur. Die kommando bestaan uit 107 blankes en 'n honderdtal nie-blankes. Op 16 Januarie word ongeveer vyf myl van Mosega afgesaal en vroeg die volgende oggend val die kommando die Matebele aan. Teen halftwaalf was vyftien statte van Mosega in puin gelê en 7 000 beeste gebuit. Die kommando ag dit gerade om so gou doenlik die terugreis te aanvaar. Hulle neem met hulle die buit en op 28 Januarie is die voorste burgers reeds op Thaba Nchu terug.

Wrywing tussen Potgieter en Maritz 
Op die terugreis of onmiddellik na die terugkeer van die ekspedisie ontstaan daar onenigheid tussen Potgieter en Maritz. Hierdie onmin, die gebrek aan weiveld en die feit dat Potgieter hom na die verdeling van die buit weer ekonomies selfstandig voel, laat hom besluit om in Maart 1837 na die bolope van die Klein Vetrivier in die onmiddellike omgewing van die huidige Winburg te verskuif. In April versit ook Gert Maritz en sy mense noordwaarts.

Aankoms van Piet Retief 
Piet Retief se trek arriveer aan die begin van April 1837 en die hersiening van die bestuursreëlings van Thaba Nchu word nodig. Retief word op 17 April tot 'goewerneur' verkies en Maritz behou sy posisie as voorsitter van die politieke raad ('Raad van politie') en regter. Potgieter word nie herkies nie. Die rede hiervoor was waarskynlik dat hy hom doelbewus afsydig gehou het omdat hy in teenstelling met Retief nie ten gunste was van Natal met sy hawe Port Natal as eindbestemming van die Trek nie.

Retief en Maritz in konflik
Potgieter en Maritz trek noordwaarts
 
Meningsverskil of daar reg ooswaarts oor die Drakensberge of noordwaarts 'om die punt van die berg' getrek moet word, ontstaan nou tussen Retief en Maritz. Na 'n openbare vergadering (13.9.1837), beweeg die trek van Retief ooswaarts, terwyl die trekke van Maritz en Potgieter noordwaarts koers vat. Die terrein van Vegkop word verbygetrek, oor die Vaalrivier en tot aan die Suikerbosrand waar hulle voorlopig tot stilstand kom.

Hierdie trek, wat geografies eintlik weg van Natal beweeg, vind plaas om 'n makliker roete te soek en om uitvoering aan Potgieter en Maritz se besluit te gee om verder met die Matebele af te reken. Hiervoor het hulle reeds al aan die Sandrivier die steun van Petrus Lafras (Piet) Uys gekry.

Die Matabele word verslaan en verdryf 
Die tweede Voortrekkerkommando van 330 man (sonder Maritz, wat siek was) onder aanvoering van Potgieter en Uys beweeg eers weswaarts en toe noordwaarts oor die Gatsrand na Mosega waar die Matebele van 4 tot 12 November totaal verslaan en verdryf word.

Intussen herstel Maritz en gaan die kommando tegemoet. Naby Gatsrand word by Deelkraal besluit om die buit te verdeel. Hieroor ontstaan bittere onenigheid. Gesteun deur Uys, dring Potgieter daarop aan dat die mense wat aanvanklik sulke swaar verliese gely het, eers vergoed moet word alvorens enige verdere verdeling gemaak word, terwyl Maritz van mening is dat hulle reeds na die eerste ekspedisie skadeloos gestel is en dat die buitvee dus nou gelykop verdeel moet word. Gesteun deur die meerderheid seëvier Potgieter se standpunt. Maritz moet hom daarby neerlê, en die tweedrag was blykbaar ook nie so diepgewortel nie, want die drie leiers kom weldra ooreen om met hul trekgroepe na Natal te gaan.

Maritz en Potgieter beweeg na Natal 
Terug aan die Suikerbosrand begin Maritz die trek na Natal. Potgieter en sy mense volg sonder geesdrif, eers suidwaarts en toe op Maritz se spoor met die De Beerspas ooswaarts oor die Drakensberge tot hulle teen die helfte van Januarie 1838 aan die boonste lope van die Tugela tot stilstand kom, verder wes as die ander trekke wat intussen aan die Tugela gaan staan het. Hier op die agterhoede is Potgieter onbewus van die ontsettende moorde wat die Zoeloe-impies op 16 en 17 Februarie op die Voortrekkers onmiddellik ten ooste van hom aan die Bloukrans- en Boesmansrivier pleeg. Toe Maritz se oproep om hulp hom egter bereik, verskuif hy dadelik sy laer na Doornkop, naby die huidige Chieveley-stasie, om daar by die laers van die vermoorde Retiefen van Maritz en Uys aan te sluit. 'n Algemene vergadering gehou (28.3.1838) om 'n kommando teen die Zoeloes te organiseer. Daar word besluit dat Potgieter en Uys gesamentlik die bevel sal voer.

Die Slag van Italeni
Potgieter trek binneland toe
 
Die kommando van 347 man verlaat die laers (6.4.1838) in twee groepe en trek noordooswaarts oor die Tugela en die Buffelsrivier om Dingane se stat uit die weste aan te val. Op die vyfde dag word die kommando aan die suidekant van die Italaberg deur die Zoeloes in 'n hinderlaag gelok en in 'n lopende geveg oor die Italeninek sneuwel Piet Uys, sy jong seun, Dirkie, en nege ander terwyl die 'Vlug-kommando' na die laers terugtrek (11.4.1838). Potgieter word vir die ramp verantwoordelik gehou en selfs van lafhartigheid beskuldig. Hy trek, in weerwil van al Maritz se pleidooie om hulle nie in die steek te laat nie, oor die berge na die binneland. Hy staan op 16 Mei reeds met sowat 160 gesinne twee dagreise wes van die Drakensberge op pad na die Sandrivier. 'n Maand daarna ruil hy van die baTaunghoof, Makwana, die sogenaamde Vetriviergronde tussen die Vet- en die Vaalrivier vir 'n dertigtal beeste. Hy sluit vredesverdrae in Transoranje met Moroka en ander hoofde.

Potgieter vestig naby die huidige Potchefstroom 
Potgieter se laer staan vir ses maande lank langs die Sandrivier. Hy verken die Oorvaalse gebied wat hy kragtens verowering op Mzilikazi as Voortrekkerland beskou. Baie van sy mense verbrei hulle noordwaarts en teen die einde van 1838 versit hy self noordweswaarts na die Mooirivier en vestig hom sowat sewe myl noord van waar Potchefstroom later aangelê sou word. Bygestaan deur 'n verkose krygsraad voer hy hiervandaan bevel oor wat aangedui kan word as die gebied Winburg-Potchefstroom wat van die Vetrivier noordwaarts tot aan die Magaliesberg strek.

Potgieter besoek Delagoabaai 
Soos alle Voortrekkerleiers, is Potgieter daar deeglik bewus van dat 'n hawe vry van Britse beheer onontbeerlik is vir die staatkundige onafhanklikheid en die ekonomiese selfstandigheid van 'n Voortrekkerstaat. Daarom vertrek hy met 'n geselskap in Junie 1840 na Delagoabaai om met die Portugese in Lourenço Marques handelsbetrekkinge aan te knoop. Hy word deur die Portugese goewerneur aangeraai om met die oog op doeltreffender handelsverbindinge 'n nedersetting nader aan die kus te stig.

Die Republiek van Natalia
Adjunkraad te Potchefstroom
Intussen kry die Voortrekkerrepubliek van Natalia sy beslag met 'n grondwet wat die hoogste uitvoerende en wetgewende gesag aan 'n gekose volksraad toevertrou. Die Natalse volksraad stuur A.W.J. Pretorius na Potchefstroom om met Potgieter en sy raad te onderhandel om die Trekkergemeenskappe ten ooste en ten weste van die Drakensberge met die nuwe republiek te verenig. Op 16.10.1840 word alhier op 'n vergadering van tussen 300 en 400 man tot so 'n vereniging besluit. Terselfdertyd wys die vergadering Potgieter aan as 'commandant en bestierder van Potchefstroom'.

Britte onderwerp Port Natal 
Met die oog op die besetting van Natal plaas sir George Napier reeds teen die einde van 1841 'n Britse troepemag naby die suidgrens van hierdie Boererepubliek. Die volksraad maak 'n opnamevan die weerbare manne en versoek Potgieter om dit in die Winburg-Potchefstroomgebied te doen. Hieraan gee hy gehoor. Terselfdertyd egter berei hy hom weer op 'n tog teen Mzilikazi voor, want daar was gerugte van nuwe bewegings van die Matebele. Aan die begin van April 1842, toe 'n Britse troepemag juis met sy opmars na Port Natal begin het, vra Potgieter van die Natalse volksraad verlof om met 'n kommando teen die Matebele op te trek. Die volksraad weier egter toestemming. Hy self word siek. In antwoord op Pretorius se noodkreet om hulp, gee hy dus alleen aan die landdroste van Potchefstroom en Winburg opdrag om soveel burgers as moontlik op te kommandeer en die Natallers te hulp te snel. Die reaksie was egter onbenullig en die Voortrekkers in Natal moes hulle aan die Britse gesag onderwerp.

Winburg-Potchefstroom word vry en onafhanklik 
In die daaropvolgende maande maak Potgieter en die adjunkraad, wat geleidelik deur die burgerraad vervang is, die republiek Winburg-Potchefstroom los van die Natalse volksraad en verklaar dit formeel vry en onafhanklik (9.4.1844).

Potgieter besoek weer Delagoabaai 
Potgieter besoek Delagoabaai in die winter van 1844 met die oog op 'n weg na die see. Hier voer hy onderhandelinge met J. A. Smellekamp wat hom aanraai om met die oog op die handel met die Nederlande deur Delagoabaai hom nader aan die hawe en terselfdertyd noord van die 26° breedtelyn buite Britse jurisdiksie te kom vestig. Met dié doel gaan Potgieter 'n ooreenkoms met die Portugese goewerneur aan waardeur hy die reg verkry om hom wes van die Lebomboberge 'agter' die Portugese hawe te vestig.

Na sy terugkeer begin Potgieter met sy voorbereidings vir die trek noordooswaarts. Baie Trekkers uit Natal kom hulle na die Britse anneksasie in 1842 op die Hoëveld vestig en die opposisie teen Potgieter se persoonlike leierskap neem toe. Hy versoek dus sy volgelinge om hul vertroue in hom te herbevestig. Op 'n openbare vergadering op 6.5.1845 kies 'n honderd man hom dan ook weer tot hoofkommandant en 'bestierder'.

Die trek na noordoos-Transvaal
Stigting van Andries-Ohrigstad
3
In Junie 1845 vind die verhuising na noordoos-Transvaal plaas. Die volksraad te Potchefstroom hou op om te bestaan en Potgieter is weer eens die trekleier van weleer. In die nuwe nedersettingsgebied lê hy Andries-Ohrigstad as sy nuwe hoofkwartier aan, terwyl hy Potchefstroom beskou as 'n adjunk-kolonie onder beheer van landdroste.

In Julie 1846 word die Ohrigstadgronde vergroot deur die aankoop van die gebied tussen die Elandsrivier, die Lebomboberge en die Krokodilrivier van Mswazi, opperhoof van die Swazi's.

Botsende partye
In die volksraad wat op Ohrigstad in die lewe geroep word, is dadelik twee partye te onderskei: die van Potgieter en sy ondersteuners, en die Volksraadparty onder J. J. Burger en ander intrekkers uit die gewese Republiek van Natalia. Hierdie partye is weldra in 'n bittere stryd met mekaar gewikkel omdat hul politieke beginsels sowel as die persoonlikhede van hul leiers onversoenbaar was.

Omdat die verbinding tussen Ohrigstad en Delagoabaai deur die aanwesigheid van die tsetsevlieg belemmer word, vertrek Potgieter in Junie 1847 met 'n kommando van sowat 240 man op 'n ekspedisie om 'n weg na die hawe Inhambane te ontdek en om die land in 'n noordelike rigting te verken. Noord van die Limpopo raak hy weer eens met die Matebele slaags en moet onverrigter sake terugkeer. In Ohrigstad verswak Potgieter se posisie; weens die koors, die ongunstige boerdery-omstandighede, die tsetsevliegbesmette verbinding met Delagoabaai en die onenigheid,verlaat baie van sy ondersteuners die gebied. Ook in die omstreke van Winburg en Potchefstroom neem sy invloed af weens die toestroming van nuwe intrekkers uit Natal. Kort na die terugkeer van sy jongste tog bring hy dus aan hierdie distrikte 'n besoek om sy gesag te konsolideer, en op 'n aantal groot vergaderings word verdere steun aan hom toegesê.

Op een van die vergaderings word ook besluit om 'n nuwe dorp in die noorde aan te lê. Daardeur word uitvoering gegee aan 'n plan wat reeds lank deur Potgieter gekoester is, en vroeg in 1848 verhuis sy volgelinge van Ohrigstad na die Soutpansberg waar die nuwe dorpie Soutpansberg(dorp) - later Schoemansdal genoem - aangelê word.

Die Transgariep word tot Britse gebied verklaar 
Ongeveer gelyktydig met hierdie verhuising verklaar sir Harry Smith Transgariep in Februarie 1848tot Britse gebied, as die Oranjerivier-Soewereiniteit, en vestig A.W.J. Pretorius en 'n aantal van die laaste Voortrekkers uit Natal hulle aan Magaliesberg en die omstreke van Potchefstroom. Openlike sprake van 'n gewapende verset onder leiding van Pretorius teen die Britse gesag in Transoranje verplig Potgieter om sy houding teenoor die buitewêreld te stel. Hy vrees dat 'n stryd met die Engelse in die Oranjerivier-Soewereiniteit die onafhanklikheid van die Oorvaalse Emigrante noodwendig in gevaar sou stel, daarom wil hy teenoor die Britse regering vriendskaplike betrekkinge handhaaf. Hierteenoor staan Pretorius 'n positiewe, feitlik aggressiewe beleid voor. Waar Potgieter tevrede is met 'n onafhanklikheid de facto van die Emigrante, daar streef Pretorius na die wettig deur Brittanje erkende onafhanklikheid van die Boere. In hierdie verskil van opvatting lê een van die belangrikste wrywingspunte tussen die twee vernaamste Voortrekkerleiers.

Potgieter haas hom dus na Potchefstroom waar op 5.5.1848 'n vergadering, waarop Pretorius ook teenwoordig is, gehou word. Sy standpunt seëvier. Sir Harry Smith word versoek om die vryheid van die gebied noord van die Vaalrivier onaangetas te laat. Na die slag van Boomplaats in Augustus 1848 sit Potgieter hierdie versoeningsbeleid voort.

Potgieter se beleid vrywaar waarskynlik in hierdie stadium Transvaal van Britse tussenkoms, maar dit verskerp die onmin tussen hom en Pretorius. In 1849 word agtereenvolgens volksvergaderings op Hekpoort, Olifantsrivier en Derdepoort gehou. Potgieter woon die eerste twee vergaderings by, maar nie die derde nie, wat die belangrikste was. Op Derdepoort word besluit om al die Trekkers onder een volksraad te verenig. Potgieter weier om die volksraadsvergaderings by te woon en hierdie liggaam skaf dus op sy vergadering te Krugerspost die amp van hoofkommandant af.

As gevolg van die vyandige houding van die omliggende Bantoestamme begin die publiek egter weldra op 'n leier aandring. Daardeur voel die volksraad sy gesag bedreig, en probeer 'n oplossing vind in 'n verdeelde leierskap. Vier kommandante-generaal word aangestel: A.H. Potgieter vir Soutpansberg, A.W.J. Pretorius vir Magaliesberg, W.F. Joubert vir Lydenburg en J.A. Enslin vir Marico. Aan al hierdie reëlings steur Potgieter hom weinig. Hy beskou homself nog altyd as hoofkommandant en handhaaf van Soutpansberg af sy aartsvaderlike bestuur.

Intussen neem Pretorius se invloed toe. Hy tree met die Britse owerheid in onderhandeling en verkry in 1852 deur die Sandrivier-konvensie die skriftelike Britse erkenning van die onafhanklikheid van Transvaal. Omdat hierdie optrede van Pretorius lynreg teen Potgieter se opvattinge indruis, vervul dit hom met groot gramskap teenoor Pretorius.

Op 16.3.1852 word 'n volksraadsvergadering op Rustenburg belê waartydens Pretorius oor die Sandrivier-konvensie verslag sou doen. Burgers, insluitende Potgieter en sy mense, kom uit alle dele van die land. Potgieter en Pretorius word op plegtige wyse met mekaar versoen en die volksraad bekragtig die Sandrivier-konvensie.

Potgieter se laaste veldtog en afsterwe 
In Augustus 1852 Potgieter nog 'n kommando teen die Pedihoof Sekwati, maar die lang reise te perd, die spanning van menige veldtog en die borswater het sy kragte uitgeput en sy gesondheid ondermyn, en drie dae voor sy sestigste verjaardag sterf hy. Sy seun, Pieter Johannes Potgieter, word in sy plek as kommandant-generaal van Soutpansberg gekies.

Bronne:

http://af.wikipedia.org/wiki/Voortrekker

http://www.groottrek.co.za/

Steve Hofmeyr - Donkie-song.

 

Sarie Marais.Com Tuis
Forum
Kontak Ons
Tuis
Die Begin
Groot Trek
Eerste Vryheids Oorlog
Tweede Vryheids Oorlog
Veldslae
Konsentrasie Kampe
Boere Generaals
Boere Helde
Fotos
Klank en video
Vlae
Nog Intrerresante feite