Die Slag van Spioenkop 24 Januarie 1900

deur Kaptein N.M. Lemmer

Die slag van Spioenkop, gekenmerk deur weergalose dapperheid aan albei kante, word herken as die hewigste geveg van die hele Driejarige Oorlog. Na die eerste gevegte aan die Natalse Front, nl. Talana, Elandslaagte en Modderspruit-Nicholsonsnek onderskeidelik op 20, 21 en 30 Oktober, 1899, word Genl. Sir George White met sowat 12,000 troepe in Ladysmith deur Komdt-genl. Piet Joubert beleër. Hierna beset die boere die Tugela-linie en slaan Genl. Sir Redvers Buller se eerste aanval af met die Slag van Colenso (13 Desember 1899). 'n Tweede deurbraak-poging hoër op met die rivier langs loop uit op die Slag van Spioenkop. Volgens die aanvalsplan van Genl. Sir Charles Warren beset 'n troepemag van sowat 1,700 man onder bevel van Genl. R.E.P. Woodgate Spioenkop in die nag van 23-24 Januarie 1900 en verdryf die brandwagte wat daar gepos was. Die mag het bestaan uit die Lancashire Fusiliers, die South Lancashires, die Royal Lancasters en die 17th Field Company Royal Engineers. Thorneycroft het met 200 man van sy Mounted Infantry die aanval gelei. Die Boere was totaal verras deur die besetting van Spioenkop. Vroeg die oggend bereik die brandwagte genl. Schalk Burger se laer. Toe lg. van die verrassingsaanval verneem, laat hy die dappere komdt. H.F. Prinsloo met sowat 90 man van die Carolina-kommando die takties-belangrike Aalwynkoppie op die Britte se regterflank beset. 'n Afdeling van 30 Heidelbergers doen op dieselfde tydstip 'n aanval in die digte mis teen die noord-westelike hang op die linkerflank van die Britte. Albei groepe word met moordende vuur begroet en aanval na aanval word vanaf die Aalwynkoppie geloods en die Carolina-burgers ly swaar verlies. Later het genl. Louis Botha bevel oorgeneem en 400 vrywilligers die kop uitgestuur. Die vrywilligers het gekom van die kommando's wat op die monument aangedui word. Komdt. ,,Rooi" Daniel Opperman van die Pretoria-kommando het hom hier besonder onderskei. Genl. Botha het self die geveg gelei vanaf sy hoofkwartier op 'n rant ten noorde van Spioenkop vanwaar sy kanonne 'n dodelike vuur op die kop neergebring het. Die Boeremagte het nooit meer as ongeveer 300 man getel nie.

Toe die mis teen 8 vm ooptrek, begin 'n verbitterde geveg om besit van die plato. Die Britse troepe word van drie kante af bestook. Om 8.43 vm. word Genl. Woodgate dodelik gewond en Kol. Thorneycroft, wat bevorder is tot generaal, neem die bevel oor. Teen ongeveer 9 vm. begin die Boerekanonne, opgestel deur genl. Botha, en onder bevel van maj. Wolmarans van die Transvaalse Staatsartillerie, vanuit drie rigtings die kop bestook en dwarsdeur die dag word die bombardement met dodelik akkuraatheid voortgesit. Teen twaalfuur dryf die burgers die Britse troepe terug tot in hulle hoofloopgrawe. 'n Paar heldhaftige stormlope deur die burgers het as gevolg dat 176 Britse troepe op die noordoostelike flank oorgee. Genl. Thorneycroft het doodsveragtend verdere oorgawes gerepudieer. Die kop kon hulle egter nie verower nie, daar die Britte, nieteenstaande dood en verwoesting onder hulle geledere, vasgeklou het aan hulle loopgrawe. Teen die middel van die dag het versterkings, bestaande uit die Middlesex-, die Dorset- en die Somersetregimente, Coke se Brigade, asook die Rand Imperial Light Infantry (lg. het bestaan uit ,,vlugtelinge" uit Johannesburg), opgedaag. Ook hulle het verskeie dappere aanvalle op die boerelinie gedoen, dog is met swaar verliese teruggeslinger. Die slagting op die beperkte terrein, die ontberings as gevolg van dors in die bloedige son, was ontsettend. Nog versterkings, bestaande nit die Scottish Rifles, die Kings Royal Rifles en andere wat later die middag opgedaag het, kon ook nie 'n beslissing afdwing nie en het sake vir die Britte slegs vererger daar hulle a.g.v. die beperkte terrein nie behoorlik kon ontplooi nie. Hulle is later die middag teruggetrek. Teen donker is die vuur gestaak en teen 10 nm ontruim Thorneycroft die kop met sy hele mag terwyl die meeste Boere toe alreeds teruggetrek het. Die slagveld was verlate en het stil geword behalwe vir die gekerm en gekreun van gewondes. Die wyse waarop die Boere hulle artillerie aangewend het, het vergoed vir hulle klein getalle en het die deurslag gegee. Die Britte daarenteen, kon weens gebrek aan observasie en die mislukking van hulle verbindings (hulle heliograwe is aan stukke geskiet) nie hul artillerie takties reg aanwend nie.

Die volgende oggend ontdek die Boere dat hulle die slag gewen het en dat Buller besig was om met sy leër terug te trek oor die Tugela.

Spioenkop het meer as 500 Britse lewens geëis en talle gewondes is later oorlede terwyl sowat 60 Boere op die Kop self gesneuwel het.

Ingesluit in die naamlys wat op die monument verskyn is daar ook die van manne wat gesneuwel het gedurende die ses dae wat die slag van Spioenkop voorafgegaan het - 'n totale verlies dus, van 106 burgers.

Spioenkop het inderdaad die lewens van die heldhaftigste manne aan albei kante geeis.

Bron: SA Mil

   

 

Sarie Marais.Com Tuis
Forum
Kontak Ons
Tuis
Die Begin
Groot Trek
Eerste Vryheids Oorlog
Tweede Vryheids Oorlog
Veldslae
Konsentrasie Kampe
Boere Generaals
Boere Helde
Fotos
Klank en video
Vlae
Nog Intrerresante feite