Slag van Boomplaats

Die Slag van Boomplaats is 'n veldslag wat op 29 Augustus 1848 tussen Voortrekkers onder Andries Pretorius en Britse magte van Harry Smith plaasgevind het. Pretorius was in bevel van ongeveer 300 man teenoor Smith se 1 200 man. Hoewel die Britte die slag gewen het en Pretorius se mag op die vlug moes slaan, het hy slegs sewe ongevalle gehad teenoor die twee-en-twintig (sestien volgens sommige bronne) aan die Britse kant. Die slag was die eerste gewapende stryd van die Boere teen Britse besetting van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier. Die nasleep daarvan het ook gelei tot die eerste teregstelling van 'n Kaapse Rebel deur die Britse owerheid in die Kaap.

Harry Smith annekseer die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier op 3 Februarie 1848 as dieOranjerivier-Soewereiniteit. Pretorius wat reeds begin voel het dat geweldadige teenstand teen die Britte moontlik die enigste weg na vryheid was, vaardig op 8 April 1848 Een Algemene Oproeping uit waarin hy die Voortrekkers daarop wys dat hulle nooit daarin sal slaag om hulself vry te trek of te vlug nie, maar die wapen sal moet opneem. Die Ohrigstadse Volksraad en A. H. Potgieter berus hulle egter by die Britse anneksasie van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier. Potgieter belê op 15 Mei 1848 'n vergadering op Potchefstroom waar daar besluit word om die oorlogsplanne te laat vaar en Potgieter instem om die Britse owerheid te versoek om Winburg aan die republikeinse noorde af te staan. Pretorius bedank as Kommandant-generaal en gaan woon op sy plaas in die Magaliesberge. In Junie 1848 word Pretorius versoek om te help in die verset teen T. J. Biddulph wat deur die Britse owerheid as magistraat aangestel is in Winburg. Pretorius word op 20 Junie 1848 aan die Sandrivier as Kommandant-generaal verkies. 'n Protesveldtog word georganiseer om die Goewerneur van die Kaapkolonie te oortuig dat die meerderheid in die Oranjerivier-Soewereiniteit teen Britse heerskappy gekant is. Pretorius gaan Winburg op 12 Julie met 'n groot gewapende mag binne. In Bloemfontein dryf hy en 'n duisend sterk kommando majoor H. D. Warden uit. Vandaar vertrek hy na die Oranjerivier waar hy by Bothasdrif, teenoor Warden se kamp, sy laer trek. Pretorius pleit steeds die terugtrekking van Britse beheer oor die gebied noord van die Oranje. Smith se reaksie is egter om Pretorius op 22 Julie tot "rebel" te verklaar en 'n losprys van £1 000 op Pretorius se kop te plaas. Pretorius laat ook nie op hom wag nie en toon sy minagting vir Smith en sy proklamasie deur op 3 Augustus in Bloemfontein 'n plakkaat uit te vaardig onder die naam "Koning Andreas I, koning van die Immigrante van die noordelike gebiede van Suidelike Afrika" en 'n losprys van £3 000 sterling op Smith se kop te plaas. Warden het besef dat 'n gewapende konflik met die Boere verreikende gevolge kon hê en het Smith daarteen probeer waarsku, maar dié het hom gerusgestel met die woorde: "My dear fellow, pray bear in mind that the Boers are my children!". 

Britse opmars en die slag 

'n Britse mag word ook noordwaarts gestuur om die Britse bewind oor die Oranjerivier-Soewereiniteit te herstel. Pretorius wat gehoop het hy kon bloedvergieting vermy val op 16 Augustus 1848 terug in die rigting van Bloemfontein wat die Britse magte later in staat stel om die rivier onverhinderd oor te steek. Smith het Kolonel George Buller beveel om 'n mag te mobiliseer en na die Oranjerivier op te trek. Hulle bereik Colesberg op 21 Augustus waar hulle by ander eenhede aansluit. Sir Harry daag ook kort daarna uit Kaapstad op om die bevel oor te neem.

Smith was in bevel van die twee Skuttersbrigade troepe en twee elk van die 45ste en die 91ste Regimente, 'n afdeling van die Kaaps Berede Skutters (Pandoere), drie sesponder-veldkanonne, en onder bevel van Lt. Dynely van die Koninklike Artillerie en 'n klein eenheid van Sappeurs en Mineurs. Verder het die Mediese Department bestaan uit Mnr. Hall, Dr. Atkinson en 'n Mnr. Power. Voorrade is met 'n kommissariaat van 117 waens onder beheer van 'n span Griekwas gekarwei. Daar was altesaam 1 200 soldate.

Alhoewel die Boere nie professionele soldate was nie was hulle formidabele teenstanders aangesien hulle uitstekende skuts was. Hul enigste kanon was Ou Grietjie wat in die Slag van Bloedrivier gebruik is. Die Boere was egter almal berede wat hulle baie beweegbaar gemaak het.

Die Britte het die Oranjerivier onverhinderd oorgesteek en in die rigting van die plaas Boomplaats op pad na Bloemfontein begin beweeg. Op 29 Augustus het die Britte op die verlate plaas Touwfontein ontbyt geëet. Hier vind hulle uit dat Pretorius stelling ingeneem het in 'n reeks lae koppies omtrent twaalf myl weg regs van die pad na Boomplaats. Smith het die teiken vroeg in die namiddag bereik en onmiddelik tot aanval oorgegaan. Die Kaapse Berede Skutters aan die linker kant, die 45ste in die middel en die Skuttersbrigade aan die regterkant, met die 91ste wat as 'n reserwemag gereserveer is. Kaptein Murray het sy swaard getrek en die teken gegee om aan te val. Die 45ste het onder swaar vuur deurgeloop en kon slegs die Boere posisies handhaaf toe die 9lste ter ondersteuning opgekom het. Die Kaapse Berede Skutters het 'n Boere sy-aanval verslaan, wat gepoog het om die waens en agter die magte aan te val, en hulle doelwitte bereik. Die Skutters Brigade het ook in hulle doelwitte geslaag en Pretorius moes na drie ure op die vlug slaan en oor die Vaalrivier terug trek. 

Twee-en-twintig Britte waaronder twee Britse offisiere het in die slag omgekom en 38 gewond insluitend Sir Harry wat in die hakskeen gewond is. Sewe boere het omgekom en vyf is gewond.

 

Bron: Wiki

   

 

Sarie Marais.Com Tuis
Forum
Kontak Ons
Tuis
Die Begin
Groot Trek
Eerste Vryheids Oorlog
Tweede Vryheids Oorlog
Veldslae
Konsentrasie Kampe
Boere Generaals
Boere Helde
Fotos
Klank en video
Vlae
Nog Intrerresante feite