Slag van Majuba

Die Slag van Majuba was die laaste van vier militêre botsings tussen Groot-Brittanje en die Boere van Transvaal gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (Desember 1880 - Maart 1881. Dit het op 27 Februarie 1881 plaasgevind. Die klinkende en vernederende oorwinning wat die Boere behaal het, het die Britte gedwing om Transvaal weer sy vryheid te gee, nadat dit op 12 April 1877 geannekseer is ('n verbreking van dieSandrivier-konvensie van 1852).

Na die Britse anneksasie van Transvaal het die Boere op 8 Desember 1880 te Paardekraal (wat later Krugersdorp geword het) tydens 'n protesvergadering die onafhanklikheid van Transvaal uitgeroep. Dit was die begin van die Eerste Vryheidoorlog. Die Boere het al die Britse garnisoene onder beleg geplaas en die eerste militêre botsing by Bronkhorstspruit oortuigend gewen.

Generaal-majoor Sir George Pomeroy Colley was die opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, asook die goewerneur van Natal en Hoë Kommissaris oor die Britse Kolonies in Suidelike Afrika, 'n briljante man met 'n uitstekende militêre rekord en voormalige professor aan dieSandhurst Militêre Akademie in Engeland. Hy het 'n opmars van Natal na Pretoria begin om die garnisoene te ontset. Hy het met 1200 troepe kamp opgeslaan op die plaas Mount Prospect, suid van Laingsnek.

Laingsnek was 'n strategiese plek waar die roete tussen Pietermaritzburg (in Natal) en Pretoria (in Transvaal) oor die Drakensberge gegaan het. 'n Boeremag van 1500 man onder Kommandant-generaal Piet Joubert het hulle op die lang rug van Laingsnek, net oos van Majuba, ingegrawe om Colley se opmars te stuit.

Op 28 Januarie 1881 (Die Slag van Laingsnek) het Generaal Colley se magte probeer om Laingsnek te verower, maar moes die aftog blaas nadat Kolonel Deane en baie van sy troepe gesneuwel het. Op 8 Februarie 1881 (Die Slag van Ingogo, ook bekend as die Slag van Skuinshoogte) het Colley se troepe weer onsuksesvol met die Boere onder Generaal Nicolaas Smit slaags geraak.

Hierna het Colley nog 2000 troepe van Newcastle laat kom en die plan bedink om die berg Majuba te beset, vanwaar hy kon neerkyk op die Boere se stellings by Laingsnek. Die Britte het die berg gedurende die nag van 26 Februarie uitgeklim. Daar was 405 Britse soldate op die berg, insluitend 171 van die 58ste Regiment en 141 van die 92ste Regiment (die 92nd Highlanders). Teen dagbreek om 04:30 is soldate rondom die kruin van die berg uitgeplaas. Die Gordon Highlanders het die noordelike en noordwestelike kruin beset, asook Gordon se koppie (Gordon's Knoll), een van drie koppies bo-op Majuba.

Daardie Sondagoggend het die Boere onmiddelik nadat hulle die Britse soldate op die berg gesien het, planne beraam om dit te bestorm. Generaal Nicolaas Smit, die bevelvoerder, het vrywilligers gevra en drie afdelings is gevorm onder leiding van kommandant Joachim Ferreira, assistent-veldkornet Fanus Roos en assistent-veldkornetDanie Malan. Generaal Smit het opdrag gegee dat die manne bo 50 agter die rotse van die eerste plato moes bly skuil en na elke Engelsman wat sy kop oor die boonste rand uitsteek, moes skiet. Dit het dit moontlik gemaak vir die res van die Boere om onder vuurdekking tot reg onder die kruin te kom, wat hulle net voor die middaguur, na 'n klim van ses uur, bereik het.

Intussen het Colley opdrag gegee dat die berg vir ten minste drie dae verdedig moes word en het hy en baie van die troepe wat dwarsdeur die nag die berg uitgeklim het, verlore slaap ingehaal.

2
Die berg Majuba

Teen 12:45 het die Boere met hewige geweervuur op Gordon se koppie losgebars en dit verower. Gedurende die volgende uur, het die Boere oor die kruin gestroom en die Britte met akkurate skietwerk groot veliese toegedien. Daar was groot verwarring en die Britte het na die suidekant van die bergtop begin vlug. Generaal Colley is bokant sy regteroog raakgeskiet en is op die berg oorlede. Die res van die Britse mag het oor die agterste kruin gespring en is beseer, geskiet of gevange geneem.

Van die Britse soldate het 92 gesneuwel, 134 is gewond en 59 is gevange geneem. Slegs een van die Boere (H. Bekker) het daardie dag gesneuwel ('n tweede een, J. Groenewald, het later aan sy wonde beswyk) en ses ander is gewond. Dit toon die verskil tussen die Britte en die Boere se kamoeflering en skietvernuf.

Die veldslag het daartoe gelei dat die Britse bevelvoerders op 21 Maart 1881 'n vredesooreenkoms geteken het.

Alhoewel daar nie baie soldate betrokke was nie, was die veldslag belangrik, om die volgende redes:

  • 'n Vredesooreenkoms is geteken, wat later tot die Pretoria Konvensie tussen die Britte en die jong Suid-Afrikaanse Republiek gelei het en die Eerste Vryheidsoorlog beëindig het.
  • Naas Bloedrivier, was die veldslag van Majuba vir die Boere die belangrikste in hulle geskiedenis, want dit het hulle eie volksbestaan bevestig en hulle die selfvertroue en nasietrots in hulle taal en kultuur gegee wat gelei het tot latere taalbewegings en weerstand teen Groot-Brittanje tydens die Tweede Vryheidsoorlog.
  • Die vuur-en-bewegingstaktiek wat Generaal Smit en die Boere gebruik het tydens die bestorming van die berg, was 'n nuutjie en is eers jare later deur ander leërs gebruik.
  • Die Britte het die vier volslae nederlae (Bronkhorstspruit, Laingsnek, Skuinshoogte en Majuba) nie vergeet nie en dit het waarskynlik gevolge gehad tydens die Tweede Vryheidsoorlog, beter bekend as die Anglo-Boereoorlog van 1899 - 1902. "Remember Majuba!" het 'n strydkreet geword.

Nog ...........

Die veldslag van Majuba en die betekenis daarvan

Intussen het mev. Hendrina Joubert, die generaal se vrou, ook die vyand op die berg gewaar.  Binne enkele minute was die Boerekamp in spanning.  Piet Joubert jaag self langs die lang linie en roep sy offisiere op.  Hy vind sy twee generaals Frans Joubert en Nicolaas Smit besig om te twis oor wie se skuld dit was dat die Engelse op die berg gekom het.  Piet Joubert duld egter geen woorde meer nie en met sy skerp hoë stem kom die bevel: “Die Engelse is daar bo en julle gaan hulle daar afhaal … dadelik!”

 

En toe volg daar een van die meer briljante strategiese beplanning in die militêre geskiedenis.  Generaal Nicolaas Smit se bevele binne enkele minute is eenvoudig verstommend.  ‘n Engelse navorser skryf:  “Everything was planned by general Smit with Napoleonic facility and speed”  [Ransford].  Geen onduidelikheid nie:  “Ek het 150 manne nodig om die berg te bestorm.  Al die ander stellings moet behou word”.  Let op generaal Smit se woorde.  Hy sê nie “julle wat dapper is volg my nie”, maar:  “Julle wat geen lafaards is nie, volg my”!

 

Die afdelings het die berg bestorm:  In die middel reg na bo assistant-veldkornet Frans Roos met sy manne;  regs van hom kommandant Joachim Ferreira met sy manne en links assistant-veldkornet Danie Malan met sy manne.  Aan die manne bokant 50 jaar word bevel gegee om agter die rotse van die eerste plato teen die steilte stelling in te neem.  “As ‘n Engelsman daar bo-op die berg sy kop uitsteek, dan skiet julle”!  Hierdie ouer manne was die ervare skuts.

 

Die Boere se taktiek was meesterlik.  Dit het eenvoudig al die Engelse militêre handboeke oortref – ons kan feitlik sê “oorskryf”.  Die gebruikmaking van “dooie grond”, dit wil sê waar die vyand jou nie kan sien nie en kruisdekking met akkurate vuur, was dodelik.  Generaal Smit se strategie was die van vuur en so vinnig soos moontlik onder hierdie dekking vorentoe beweeg.  Nie almal gelyk nie, maar twee-twee, selfs een-een van struik tot struik, van rots tot rots.  Feitlik ongesiens het die Boere in ‘n lang halfmaan rondom die Majubakruin al nader en nader beweeg.  Dit was met ‘n ongelooflike geduld vir ses ure lank.  En tog was elke beweging met blitsige spoed.  Teen elfuur se kant was die voorstes alreeds onder die regop kranse van die kruin.  Van die rand van die plato onder hierdie kranse kom daar, sodra daar beweging bo-op die kruin is, elke keer sarsies vuur van die manne bo 50 jaar.

 

Intussen leef generaal Colley en sy offisiere in die grootste waan oor die toestand.  Triomfantlike boodskappe word met vlae en Heliograafseine na Mount Prospect gestuur.  Onder andere laat Colley hulle weet:  “Alles is wel.  Die Boere mors hulle ammunisie en is besig om hulle waens op te pak … Een van ons manne is in sy voet gewond…”

 

Vir ure lank het die Britte geen besef van die Boere se geniale militêre vernuf nie.  Hulle het ook geen besef dat die Transvalers bereid is om ‘n duur prys vir hulle landsvryheid te betaal nie.  Hulle weet ook niks van die Boere-gedetermineerdheid toe generaal Joubert gesê het:  “Tot sover en nie verder nie”!

 

DIE BETEKENIS VAN MAJUBA

 

In omvang en getalle was die veldslag van Majuba eintlik klein.  In vergelyking met groot verdslae in die wêreldgeskiedenis, was dit skaars ‘n skermutseling van enkele ure.  Maar die betekenis van Majuba was vir Suid-Afrika onoortreflike:  Die magtigste wêreldmoondheid, Groot Brittanje met sy baie kolonies as ‘n Verenigde Koninkryk onder die Union Jack, is tot in sy fondamente geskud.  Lord Carnavon se Federasie-politiek vir die subkontinent van Afrika het ‘n nekslag gekry.

 

Naas Bloedrivier was die veldslag van Majuba vir die Boere die belangrikste in hulle geskiedenis.  Die betekenis is onberekenbaar:

 

·        Afrikaners met hulle eie identiteit van taal en kultuur en ‘n eie volksbestaan soos alle ander volke in die wêreld, het met Majuba, ‘n voldwonge feit geword.

 

·        Die Britse politieke beleid in Afrika moet ingrypende aanpassings maak.  Sy kolonialisme het ‘n nuwe dimensie gekry.

 

·        Maar helaas, Majuba het die grootste wraak van Groot Brittanje wat nog ooit teen die klein Boerevolkie gepleeg is, ontketen.  Die Britse trots kon nooit die vernedering van Majuba verwerk nie.  Koningin Victoria het met verbittering uitgeroep:  “I do not like peace before we have retrieved our honour”.  “Remember Majuba!”  het die Engelse se nuwe strydkreet geword.  Die oorlog van 1899 – 1902 tussen Boer en Brit het vir byna drie jaar op ‘n massale bloedvergieting uitgeloop.  Thomas Pakenham, ‘n Britse outoriteit oor die Tweede Anglo-Boere oorlog skryf die volgende:  “Milner’s little” “Armageddon” had cost the British taxpayer more than £ 200 million.  The cost in blood was equally high.  The War Office reckoned that 400 346 horses, mules and donkeys were “expended” in the war.  There were over a hundred thousand casualties of all kinds among the 364 693 imperial and 82 742 colonial soldiers who had fought…  On the Boer side, the cost, measured in suffering, was relative much higher.  It was estimated that there were over 7 000 deaths among the 87 365 Boers who foughs for the two republics”  [Pakenham:  The Boer War, 1993. p. 287].  Aan Boerekant het ook nog 26 251 vroue en kinders in 45 konsentrasiekampe gesterf.  Ook 30 000 Boerewonings en plase is in Transvaal en die Vrystaat totaal verwoes [Ensiklopedie van die Wêreld”  Stellenbosch, 1974, deel 6, p. 204].

 

Bron: Wiki

Boer

   

 

Sarie Marais.Com Tuis
Forum
Kontak Ons
Tuis
Die Begin
Groot Trek
Eerste Vryheids Oorlog
Tweede Vryheids Oorlog
Veldslae
Konsentrasie Kampe
Boere Generaals
Boere Helde
Fotos
Klank en video
Vlae
Nog Intrerresante feite