Slag van Bloedrivier

Die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838)

Andries Pretorius word ontbied
Die moord op Piet Retief en sy geselskap, die slagting van die Trekkers by Blaauwkrantz, die mislukte Italeni-ekspedisie en die onveilige en onsekere situasie in Natal, laat Maritz en sy mense besin oor leierskap, en veral 'n militêre aanvoerder. Gert Maritz stuur Frans Hattingh, 'n neef van Pretorius, Sarel Celliers en nog 'n Trekker na Letskraal1 naby Graaff-Reinet met die dringende pleidooi om die Trekkers te kom help. Nadat Pretorius vir Hattingh deeglik ondervra het, stuur hy sekere opdragte saam met hom. Die trekkers moes, onder andere, veghekke maak vir die voorgenome laer wat as basis sou dien vir die kommando se aktiwiteite - om voorsiening te maak vir die afwesigheid van doringbosse.

Pretorius word aangestel as hoofkommandant
Op 22 November 1838 kom Pretorius by die laer aan die Klein Tugela aan. Op 25 November stel die Volksraad,2 wat in die hooflaer byeenkom, hom as hoofkommandant3 aan. Onmiddellik na die vergadering word 'n krygsraad gehou en twee dae daarna, op 27 November 1838 vertrek Pretorius met sy kommando van 468 Afrikaners 4,sowat 60 swartes (wat deur Alexander Biggar saamgebring is) en 'n aantal gekleurde bediendes in die rigting van Dingane se hoofstad. Andries Pretorius besluit dat die kommando met 64 ossewaens laer sal trek, eerder as om die Zoeloes in die oop veld te perd aan te durf. Pretorius word bygestaan deur komman
dant Karel Landman*, sy tweede in bevel, en kommandante Piet Jacobs, Koos Potgieter, Hans de Lange en Stephanus Erasmus.

Kommandant Pretorius roep sy kommandante, veldkornette en manskappe bymekaar. Elke offisier en manskap kry instruksies oor wat presies van hulle verwag word. Pretorius dring aan op totale gehoorsaamheid en geen teëpratery en die kommando word aangespoor tot manmoedigheid, versigtigheid en eensgesindheid.5 Hy gee opdrag dat geen vroue en kinders in die toekomstige gevegte geskaad word nie. Kommandant Landman spreek 'n paar woorde en vra Sarel Cilliers om voor te gaan in gebed. Op hierdie wyse word die lede van die kommando elke dag besiel en afgerig om binne minder as drie weke in 'n merkwaardige krygseenheid te ontwikkel.

Die optog na Bloedrivier
Die Tugela is in volle vloed dus steek die kommando die rivier oor by sy bolope naby Spioenkop en die eerste laer word aan die oorkant van die Tugela getrek. Kommandant Pretorius beduie in besonderhede hoé die laer van nou af aan opgestel moet word. Elke aand word dus laer getrek, wagte uitgeplaas en inspeksies gehou. Patrollies en verkenners word daagliks uitgestuur, somtyds met Pretorius self as leier. Die waens beweeg in 'n formasie van vier rye sodat die string nie te lank is nie. Die voor- en agterhoede van die gelid word deeglik beskerm. Elke kommandolid se wapens word in volle gereedheid gehou, nagegaan en weer nagegaan. Afgesien van die patrollies word veldoefeninge gehou, met die manskappe in hulle veldkornetskappe ingedeel, om tug en ordelikheid by elkeen in te skerp. Twee voorlaaier-kanonne, die een genaamd "ou Grietjie" word uitgetoets en gereed gehou. Hier by die Tugela word eers krygsraad gehou gevolg deur 'n diens gelei deur Cilliers. 'n Patrollie onder Stephanus Erasmus word daarna uitgestuur om die krale van Joob, 'n Zoeloe-hoofman wat die afgelope tyd las gegee het, te verken.

Die optog bereik die Kliprivier waar Komdt. Landman en sy groep van 123 man by die laer opdaag. Hulle word vergesel deur Alexander Biggar,6 Edward Parker en Robert Joyce en 100 "mak swartes" van Port Natal. Die Trekkers beweeg nou in 'n noordelike rigting, noord van die huidige Ladysmith, oor Danskraal en die teenswoordige Biggarsberge en op 5 Desember word kamp opgeslaan by Elandslaagte. Hans de Lange lei 'n patrollie van drie man om Joob se krale weereens te bespied en moet hulle verdedig toe hulle onverwags midde in 'n groep Zoeloes bevind. Hulle neem een Zoeloe gevange gevange bring hom laer toe. Ná ondervraging ruk Pretorius met 300 man op na Joob se krale - die swartes het hulle egter intussen uit die voete gemaak. Op 6 Desember vertrek die laer om Waschbank (Sondagsrivier) op 8 Desember te bereik. Hiervandaan vorder die Trekkers oor die berge tot by Zandspruit (die huidige Kliprivier).

Die Gelofte
In hierdie tyd word die Gelofte onder leiding van Sarel Cilliers afgelê waarmee die Trekkers plegtig belowe dat, indien God hulle sou help om die Zoeloemag oorwin, dié dag aan die nageslag bekend gemaak sal word, dat dit gevier sal word ter ere van God en dat 'n kerk in Sy Naam opgerig sou word.7 Na 9 Desember word die Gelofte elke aand, tot 15 Desember, in die laer herhaal.

Verkenning
Op 11 Desember bereik die kommando die Umzinyathi of Buffelsrivier. Hier kom Pretorius se verkenners die eerste Zoeloe-spioene teë. Parker, met 'n aantal swart verkenners, dood 'n Zoeloe in 'n kort skermutseling. Pretorius besluit om by die Buffelsrivier te vertoef en stuur op 12 Desember twee patrollies uit, een onder leiding van Komdt. De Lange en die ander, bestaande uit swart spioene onder Parker se aanvoering. Laasgenoemde groep kom weer Zoeloes teë, dood een en neem 'n swart man en aantal swart vroue gevange. Die Zoeloe val Parker aan en dié skiet hom dood. Pretorius skryf sy naam op 'n wit doek en stuur die vrouens na Dingane met die doek en 'n boodskap dat die kommando gekom het om hom te straf. Indien hy sy samewerking gee, is Pretorius gewillig om vrede te maak. Indien hy verkies om te veg, moet hy besef dat die witmense nie gaan besgee nie, al neem dit tien jaar.

'n Patrollie bemerk op 13 Desember 'n groot aantal Zoeloes naby die laer met 'n trop beeste. Hierdie lyk na die soort lokval waarin Piet Uys en sy makkers gedood is en op 14 Desember stel Pretorius ondersoek in met 120 perderuiters. Agt Zoeloes word hier in 'n skermutseling doodgeskiet.

Op Saterdag, 15 Desember, steek die kommando die Buffelsrivier oor en span uit tussen dié rivier en die Ncome,8 'n sytak van die Buffels. Twee verkenners, Jan Robbertse en Hans Hattingh, rapporteer dat 'n groot Zoeloemag ongeveer 'n halfuur te perd van die Trekkers af saamtrek. Na Pretorius die omgewing bekyk het, word besluit om oorkant die Ncome, aan die weste kant, laer te trek. Hier is 'n diep seekoeigat en 'n donga met 'n baie hoë wal wat 'n ideale ruimte vir 'n laer bied. Die kampkommandant, Piet Moolman, kry opdrag om 'n halfmaanvormige laer te trek met die donga agter die waens. 'n Geoefende groep van 150 man spring aan die werk terwyl 300 berede manskappe onder Pretorius 'n kanon in die rigting van die Zoeloes sleep.

Die laer by Bloedrivier
Die waens word só opgestel dat twee kante deur die seekoeigat en die donga beskerm word. Dit maak die laer groot genoeg om die kommando se osse en perde te huisves. Die waens word deeglik met rieme aan mekaar vasgemaak met die veghekke wat elke opening toemaak. Twee smal openinge maak voorsiening vir die perderuiters wanneer hulle die laer sou verlaat en hekke word gereed gehou om hierdie openinge te sluit.

Intussen nader Pretorius, Cilliers en De Lange met hulle ruiters die Zoeloekrygers wat nou sissend neerhurk. Groepe Zoeloes jaag 'n groot klomp beeste aan in die hoop om die kommando in 'n hinderlaag te lok. Die trekkers word egter nie om die bos gelei nie en Pretorius hou by sy besluit om nie die impi in die oop veld aan te val nie. Hy verdeel die kommando in groepe van vyftig, vyftig treë van mekaar en paradeer die manne voor die Zoeloemag. Hulle word noukeurig dopgehou maar die Zoeloes val nie aan nie en die kommando vertrek terug laer toe. Pretorius doen inspeksie en laat kerse opsteek wat orals in die laer geplaas word, sommige op lang sweepstokke. Die laaste verkenner daag op met die nuus dat die hele Zoeloemag nader beweeg het en kort anderkant die rivier naby die laer stelling ingeneem het. Na skatting het tussen 10 000 en 15 000 krygers hier saamgedrom onder leiding van Ndlela en Dambuza, gereed vir die aanval op die Trekkers. Dingane was nie teenwoordig nie maar hierdie impi het die room van sy mag verteenwoordig. Twee prinse en verskeie hooggeplaastes uit Dingane se krale het onder die Zoeloekrygers getel.

Die trekkers nuttig aandete, versorg die diere (ongeveer 900 osse en 500 perde), wat in kringe vasgemaak word, en Sarel Cilliers lei die aanddiens en herhaal die Gelofte - vir die laaste keer voor die geveg. Wagte word elke twee uur vervang terwyl dié Trekkers wat wel slaap, volledig gewapen is. 'n Stilte sak op die laer neer en later word slegs die perde se gesnork en die osse se kreune gehoor.

Die Slag (Sondag, 16 Desember 1838)
Twee ure voor dagbreek is al die manskappe op hulle poste en gewapen. Die kanonne is in openinge opgestel om die geweervuur te ondersteun. Die mistigheid klaar op en 'n perfekte wolklose en windlose dag breek aan. Die laer is omsingel deur die Zoeloemag met hulle skilde - die voorste linie sit slegs omtrent veertig treë van die waens, met ry op ry krygers agter hulle oor 'n area van nagenoeg 1000 treë. 

Die Zoeloes sit opgedeel in hulle regimente, elk met sy kaptein; alle oë op Ndlela en Dambuza, wagtende vir 'n teken om aan te val. Pretorius maan sy manne om nie die groot getalle te vrees nie: "Ons sal oorwin". Naaste aan die waens is Dambuza se mag opgestel terwyl Ndlela se krygers by die seekoeigat saamgetrek is en nog 'n groep hulle binne die donga tuisgemaak het.

Kommandant Pretorius besluit om die eerste aanval te loods; op sy teken word die stilte verbreek deur die gedreun van die olifantgewere en snaphane. Drie sarsies word afgevuur terwyl bulderende kanonne, beman deur Bart Pretorius en Joubert, paaie deur die Zoeloes se linies ploeg.

Die kruitrook lê soos 'n wolk oor die laer en op Pretorius se teken staak die kommando tydelik vuur. Toe die wit kruitdamp ooptrek merk die Trekkers dat die Zoeloes nou 500 treë agter hulle gewonde en gesneuwelde makkers teruggeval het en hoe vars regimente hulle by die impi aansluit.

Die trekkers hoor hoe bevele uitgeskreeu word en sien hoe die voorste krygers hulle assegaaie se stele breek om steekassegaaie te maak. Die Zoeloemag bestorm die laer met onaardse gille, skilde omhoog en assegaaie in gereedheid. Sommige vorder tot baie naby die laer en talle assegaaie tref die waens se seile. Die kommando se geweervuur stop die aanstormende menigte in hulle spore terwyl 'n aantal Trekkers die beeste en perde wat verwilderd raak, met geweerskote onder beheer bring.

'n Aantal Zoeloekrygers drom in die donga saam en klim op mekaar se skouers om die Trekkers onder skoot te kry. Sarel Cilliers en 'n groepie manskappe kry opdrag om hierdie bedreiging vanaf die wal van die donga die hoof te bied. Hulle dood ongeveer 400 krygers in dié skermutseling, maar Philip Fourie word gewond toe 'n assegaai hom in die dy tref.

Pretorius rig 'n kanon op Ndlela se regiment en toe die skoot tussen die krygers bars, vlug hulle uit die donga; sommige spring in die seekoeigat terwyl andere by Dambuza se regimente aansluit. Komdt. Jacobs betwyfel Pretorius se besluit om die donga aan te val. Hy voel dat die aanval op die waens só versterk word. Kommandant Pretorius weet egter presies wat hy doen: hoe digter die linie krygers, hoe meer word op 'n keer raakgeskiet. Pretorius wil nie toelaat dat die laer omsingel word nie en wil probeer om die geveg in die kommando se guns te beklink vóór die ammunisie opraak.

Die Trekkers se geweer- en kanonvuur dryf die Zoeloes weereens terug en die impi retireer tot 500 of 600 treë van die laer. Boodskappers skarrel tussen die aanvoerders terwyl die ou ringkoppe op hulle gemak sit en snuif. Die kommandant se broer, Bart Pretorius word uitgestuur, vergesel van 'n paar manskappe en 'n tolk. In 'n poging om die Zoeloes uit te tart, vra hy: "Wat doen julle nou, manne van Dingane? Ons het gekom om te veg - nie teen weerlose vroue en kinders nie, maar teen manne! Hoekom val julle nie aan nie?" Die krygers sis, maar verder gebeur daar niks. Bart hulle vuur 'n paar skote in die impi se rigting en keer terug laer toe.

Weer rig Pretorius kanonvuur in die die rigting van die linies. Die Zoeloes spring op en die swart golf rol aan in die rigting van die laer, al trommellende op hulle skilde terwyl hulle gil, fluit en sis. Hierdie aanval is die langste van die hele geveg, maar die Trekkers skiet sarsie na sarsie om honderde krygers te dood of te verwond. Die gewere se lope word só warm dat die manskappe vrees dat dit enige oomblik kan ontplof. Die Zoeloes val weer terug en bly nou buite die Trekkers se skootafstand - hulle verliese is geweldig en die aanval was sonder enige sukses. Die geveg duur nou bykans twee ure en die blaaskans word verwelkom terwyl die kruitdampe uit die laer styg.

Bart Pretorius lei nou drie stormlope te perd tot in die Zoeloelinies. Die manne skiet uit die saal op die digste samedrommings van die impi en probeer om langs die donga by die vyand se linkervleuel verby te jaag. Terwyl die voorste geledere van die Zoeloes retireer, probeer regimente witskilde

agter hulle vorentoe dring en op die kommando afstorm. Die witskilde word eers agtertoe gedwing en Bart se kommando skiet honderde gedurende dié beweging dood. Uiteindelik storm die krygers, versterk deur die jonger regimente weer vorentoe. Pretorius en sy perderuiters word gedwing om terug te val laer toe. Die kommando loods 'n tweede stormloop en slaag daarin om die Zoeloes verder terug te dryf met knap skietwerk en bedrewe ruitery. Die manne val egter weer terug toe die linies vorentoe dryf. Die skuts in die laer trek andermaal los en slaan die aanval af met hulle gewere en kanonne. Die derde stormloop is meer suksesvol: die perdekommnado sny deur die Zoeloegeledere en val die linies in die oop veld van agter aan. Andries Pretorius laat die kanonne uit die laer sleep en bestook die aanstormende bendes van voor. Die impi breek op en Bart en sy ruiters jaag in die opening in, verdeel die krygers en met die hulp van die kanonne dryf hulle die vyand al verder uitmekaar. Andries Pretorius lei 'n verdere stormloop uit die laer; toe die Zoeloes in twee groepe vlug, verdeel Pretorius sy manne ook en so agtervolg hulle die vlugtendes vir omtrent drie ure.

Dambuza se regiment probeer die Ncome oorsteek - talle word daar naby die laer doodgeskiet terwyl baie gewondes ook in die rivier spring. Die water verkleur rooi van die Zoeloes se bloed - vandaar die naam, "Bloedrivier". Sarel Cilliers en sy ruiters jaag Ndlela se krygers en hulle slaan ook op die vlug terwyl hulle op strepe platgetrek word. Die hakkejag duur tot die middag voor die kommando's terugkeer laer toe. Toe Andries Pretorius 'n kryger probeer vang om hom met 'n boodskap na Dingane te stuur, steek die Zoeloe in sy rigting met sy assegaai. Pretorius skiet en mis die man, sy perd spring terug en noodsaak Pretorius om af te spring. Die Zoeloe steek weer 'n keer na Pretorius wat die assegaai met sy geweer afweer. Die derde keer klap Pretorius die assegaai met sy linkerhand weg maar die lem steek deur sy handpalm. Pretorius pen die kryger op die grond vas terwyl dié hom probeer verwurg. 'n Makker trek die assegaai uit Pretorius se hand en steek die swarte daarmee dood.

Terwyl Gerrit Raath en 'n mede-trekker na die agtervolging koers neem rivier toe, kom hulle op 'n gekweste Zoeloe af. Om ammunisie te spaar wil hulle die man met sy eie assegaai dood, maar dié spring op en steek Raath in die rug. Die Trekkers skiet die kryger mis en die Zoeloe beland bo-op Raath en 'n gestoei ontstaan. Hattingh sien die worsteling, gryp die assegaai uit die man se hande en steek hom daarmee dood. Raath herstel gelukkig later van sy wond.

Die Zoeloemag slaan op 'n totale vlug en die kommando's keer terug laer toe. Die Trekkers het nie 'n enkele man verloor nie en slegs drie het wonder opgedoen: Andries Pretorius, Philip Fourie en Gerrit Raath. Na skatting is omtrent 3000 Zoeloekrygers in die omgewing van die laer dood, maar 'n groot aantal het in die agtervolging gesneuwel. Die Trekkers doen 'n dankgebed en nuttig 'n welverdiende ete waarna hulle die gewere skoonmaak en lopers giet vir moontlike verdere skermutselings met Dingane se impi. Kommandant Landman en 'n kommando met vars perde rapporteer later dat daar geen teken van die Zoeloemag in die omgewing te bespeur is nie. Andries Pretorius roep die aand sy manne bymekaar vir 'n krygsraad waar besluit word om Dingane in sy hoofstat aan te pak. Die sogenaamde Wenkommando ervaar daardie aand 'n ongekende opwinding na 'n spannende en vermoeiende dag en kry 'n goeie nag se rus in.

Andries Pretorius en Karel Landman het albei verslae oor die Slag van Bloedrivier nagelaat terwyl Jan Gerritze Bantjes se joernaal 'n belangrike bron van inligting is.

Begrafnisse (17 Desember 1838)
Vroeg die oggend van 17 Desember 1838 word die laer by Bloedrivier uitmekaar gemaak en die Trekkers kies koers na Umgungundlovu, Dingane se hoofstat. By Italeni word Piet Uys en sy gestorwe makkers se oorblyfsels gesoek en begrawe. Teen 20 Desember 1838 is Pretorius se kommando naby die hoofstat en 'n patrollie word gestuur om verkenning te doen. Tot hulle verbasing aanskou hulle hoe die hele kraal in ligte laaie staan. Dingane, sy vrouens en sy onderdane is besig om noordwaarts te vlug met hulle vee en honde. Pretorius trek laer en hy en 200 man deursoek die terrein van die smeulende stat. Hulle vind ook Piet Retief se geselskap se oorblyfsels by kwaMatiwane waar hulle vermoor is. Die individue word uitgeken aan hulle klere, artikels in hulle sakke, knope, ens. Langs Retief lê sy waterbottel en leertas met korrespondensie en die traktaat wat Retief en Dingane geteken het. Op Kersdag begrawe Andries Pretorius en sy manne die Retief-geselskap se gebeendere in 'n gesamentlike graf aan die voet van die koppie.

Bron: Groot Trek

   

 

Sarie Marais.Com Tuis
Forum
Kontak Ons
Tuis
Die Begin
Groot Trek
Eerste Vryheids Oorlog
Tweede Vryheids Oorlog
Veldslae
Konsentrasie Kampe
Boere Generaals
Boere Helde
Fotos
Klank en video
Vlae
Nog Intrerresante feite